Hoekom is dit so moeilik om hom lief te hê? Partykeer voel dit asof ek bloei; ek is broos en week en swak - en ander dae is ek weer sterker, voel ek mooi en begeerlik en alles wat daarmee saamgaan. Hy sê hy het my nodig - en dit voel goed dat ek onvervangbaar, onontbeerlik, is. Ek sê "I love you" en hy sê "I know". Wat is ek veronderstel om te voel? Hy anker my - en sy liefde is swaar, en bitter.
Die egskeiding vorder nie. Ek gaan 'n ander prokureur kry. Eintlik is ek seker hier besig met 'n buite-egtelike affair, maar dit voel nie so nie. Dit voel nie asof ek getroud is nie. T is 'n slegte droom (een van daai what-was-I-thinking drome) en N is real, hy is hier en hy is lief vir my.
Ons drink nogal baie tee. Die ritueel is gemaklik.
Dit raak ook makliker om langs hom aan die slaap te raak. In die donker voel ek veilig. Hierdie hele winter het ek nog nie een keer koud gekry wanneer ek by hom is nie. Hy omhels my, omarm my - beskerm my. Daar is iets oudmodies (is dit die regte woord? ek dink aan chivalry) in die manier waaraan hy my begelei as ons om die woonstelblok loop. Hy is 'n gentleman. Ook 'n bliksem, maar dit het ek lankal geweet.
Hy gaan my breek. Ek gaan my op hom breek, soos water teen 'n rots. Die pyn is ondraaglik - maar dis deel hiervan. Alles is.
Vandag waai die wind weer. Troosteloos. Die son is 'n dowwe kol. Die maan is onsigbaar, en amper vol.
Van volgende week af gaan N saam met my kunsklasse doen. Ek geniet dit nogal: die kreatiwiteit, eindelose herhaling en verfyning - die terugstaan om perspektief (of dalk net 'n blaaskans) te kry. Maria se handgerolde sigarette. Die koppie tee wat altyd so halfpad deur 'n klas bedien word. Die manier waarop sy haar kop skuins hou voor sy goedkeurend knik.
Ek voel die drang om met kleure te speel, my wêreld helder te verf, groen te bloei oor alles. Binnekort word dit lente. Ek kan nie wag nie - maar ek sal hierdie eerste winter saam met N altyd onthou.
Friday, July 27, 2007
Subscribe to:
Posts (Atom)