Monday, December 25, 2006

krismis

dis krismis! en die antidepressante laat my in die steek..... weet nie meer nie. ek is tussen vriende, die behuisingsituasie is so te sê uitgesorteer (alhoewel ek nie weet wie gaan my goed trek nie). maar daar is hoop op beterskap.

Sunday, December 24, 2006

wolwe

isabel wonder oor wolwe - en gewoonlik oor sprokies in die algemeen. maar vandag wonder sy spesifiek oor wolwe. isabel het onlangs onder die skuilnaam isa 'n bekentenis op die net gemaak, en dit kan wolwe dalk na haar lêplek lei..... maar isabel gee nie om nie. isabel is 'n tough cookie, vreesloos en sonder gewete. partykeer.
dis nou na aanleiding van die storie van die broeders grimm wat isabel aan al hierdie dinge dink; dit en 'cry wolf' (verspotte tienerfliek met buitegewoon goeie fotografie). en dit laat haar dink aan wie 'n wolf is, tuis en elders. en hoekom daardie belaglik rooikappie so 'n helder kleur jas aangehad het - en as die wolf haar doodgemaak het sou hulle haar in elk geval maklik gekry het: iewers tussen haar ouma se huis en die houtkapper. was die houtkapper self so onskuldig? of het hy ook sy eie geas gevolg, met die voorwete dat sy lewe in een gewelddadige oomblik drasties sou verander? en het sy lewe regtig verander of was dit net meer van dieselfde ou stront.....?
in elk geval, sprokies fassineer isabel maar ook die herkoms daarvan, die kaal beendere en basiese liegstorie van elke sprokie. wie het dit eerste gesê? speel orale vertellings regtig so 'n groot rol of het iemand op 'n dag besluit om 'n hele mitologie te skep uit niks?
maak in elk geval nie saak nie.
isabel dink deesdae baie oor haar verlede maar dis onder beheer. sy sal dit weer oorleef.

Monday, December 18, 2006

storie-storie

die ander-isabel (en nee, haar naam is ook nie isabel nie) is nou besig om die stripper-storie te lees...... ek is nogal senuweeagtig, en nuuskierig om uit te vind wat sy dink. sal sy van die storie hou? of maak dit haar (soos vir my) net hopeloos deurmekaar? ek het al oorweeg om die eerste paar hoofstukke vir hjp te stuur maar dis nog so 'n gemors. daar is soveel los drade, soveel goed wat net nie sin maak nie. party van die atrocities is op die ingewing van die oomblik ingesit, soos dat nina se pa met haar gelol het - ek vermoed dis nie waar nie. wel, miskien is dit. die krismisrose freak my nog uit.
in elk geval..... ek het vandag vir fifi laat weet dat my posadres verander, en hoop om hierdie veertien-jaar korrespondensie binnekort te hervat. daar is iets magical aan papierbriewe (snailmail, soos hulle dit op tv noem) - die reuk van die papier, die oopskeur van die koevert, die interessante posseëls wat ons nie op hierdie f.d'up klein dorpie kry nie..... en prentjies in die kantlyn, akkurate aanduiders van die skrywer se gemoedstoestand op daardie tydstip. elektroniese pixels op 'n vyftienduim skerm is net nie dieselfde nie.

Friday, December 15, 2006

uitkoms

isabel trek einde van die maand na 'n ander stad - sy is moeg vir stowwerige warm klein dorpies waar die mense kliekerig is en jou net aanvaar as jy self 'n uitgaande persoonlikheid het. sy is nie die enigste een wat hieroor kla nie. baie van die mense wat sy al ontmoet het sê hulle sukkel om op dié spesifieke klein dorpie aan te pas, selfs na twee of sewe of elf jaar. hoe lank kan mens ontuis voel op 'n plek en nog steeds daar bly? isabel het besluit twee jaar is lank genoeg en gee die stryd gewonne.

die antidepressante het dalk iets met haar besluit te make.

Thursday, November 09, 2006

ouers

hoe raak 'n mens deurmekaar? gebeur dit gewoonlik geleidelik of is dit normaal om net op 'n dag te besef jy weet nie wat nou om jou aangaan nie? gaan tyd verby as mens nie oplet nie (dis seker omtrent soos die zen-puzzle van die boom wat val...)? en bestaan tyd enigsins? geen idee.
al wat ek weet is dat ek nou die dag nog sweet sixteen was..... wel, ek weet ook nie of ek al ooit "sweet" enigiets was nie. mens groei mos in jou persoonlikheid in, en dis amper soos om 'n handskoen aan te trek - jou vingers soek die holtes van die vingers maar partykeer vou die lap, dan weet jy nie of daar plek vir al jou vingers gaan wees nie..... hmm. kak analogie, ek vra om verskoning. verstaan jy wat ek bedoel?
ek het baie lank gesoek en gesukkel voor ek agtergekom het wie (en hoe) ek regtig is. my lewe is nie 'n piekniek nie, maar dis ten minste interessant. daar is altyd die suggestie van wolwe - en die moontlikheid dat ek self gevaarlik kan wees. dit jaag die bloed in jou are, en alles lyk opwindend en nuut.
aag, ek weet tog nie wat ek bedoel nie. gaan liewers slaap.

Monday, October 23, 2006

die man

eendag was daar 'n vrou wat na net vyf dae met 'n wildvreemde man getrou het. dit is ook 'n lang storie. die nadraai van die storie is dat die man vandag op pad is na malawi, nadat hy homself in 'n belaglike situasie ingekry het. sy lewe is in gevaar - of altans, hy het doodsdreigemente gekry. interessante tye waarin ons lewe, of hoe? meer later.

Monday, September 25, 2006

dood

Ek het eergister verby 'n kleinerige nissan bakkie gery -- daar was 'n dooie kameelperd agterop, bene afgekap by die knieë, stert afgesny, nek dubbel gevou en platgebind met tou..... Ek het vir die volgende paar kilometer gewonder wat is verkeerd met die wêreld.
Wel, natuurlik is daar BAIE dinge verkeerd met die wêreld. Ek weet nie hoekom hierdie een insident my so ontstel het nie. Dalk omdat ons as mense tog tot 'n sekere mate alles verdien wat met ons gebeur..... maar wat het daardie kameelperd ooit aan enigiemand gedoen? En is dit enigsins wettig om deur 'n dorp te ry met 'n dooie kameelperd onbedek agterop 'n bakkie?

Friday, September 22, 2006

uitkoms

Isabel voel deesdae asof alles onder beheer is. Sy het 'n paar weke gelede opgehou rook, en die gedagte dat sy nou nie meer (definitief) aan longkanker gaan beswyk nie, is 'n verligting. Dit los nog net hartprobleme, hipertensie, diabetes, depressie (wat manifesteer as selfmoord), en al die ander soorte kanker. Maar ten minste is die lysie nou korter.
Intussen dink sy nog aan die storie van die speurder en die stripper, en die plot begin vorm kry - maar hoe skryf mens 'n boek in hierdie land sonder om dertig jaar se politiek en rugstekery en geheul-met-die-vyand ook by te sleep? Op wie se tone mag mens trap? Waarvoor is mense al moeg, en wat is hulle bereid om darem nog één keer te lees? Wie is "ons" en wie is "hulle", en waar lê die onderskeid?
En is dit enigsins raadsaam om meer as drie issues in een boek te probeer takel?
Marthin sê sy moenie die storie te complicated maak nie, maar haar kop staan al weer in die rigting van magiese realisme & surrealistiese fade-outs. Sy weet nie meer nie. Niks maak sin nie. En tog: met 'n pen in haar hand (of 'n keyboard onder haar vingers) wéét sy wat sy doen. Alles maak sin.
Alles is sprokie. Woorde aanmekaargeflans skep 'n wêreld, en sinne is roetes die onbekende in. Isabel skryf 'n sprokie (net soos Griet) maar anders as Griet beplan Isabel nie om met haar kop in 'n oond te kniel nie. Isabel het beter dinge om met haar tyd te doen.

Tuesday, September 19, 2006

Hmm...

Vreemd hoe mens verander oor die jare. Een dag is jy klein en dom en die volgende dag (so om en by sewe jaar later) is jy groot en hopelik wyser. En jou liefdes verander ook natuurlik, sodat dit partykeer moeilik is om te verstaan hoe jy ooit so 'n eindelose, matelose passie vir iemand gevoel het. Jy het aanbeweeg en die wêreld het ook.
Dis onmoontlik om terug te gaan na daardie oomblik toe alles 'perfek' was (en tien teen een was dit in elk geval nie so perfek nie). As jy jou Groot Liefde nou sou raakloop: wat sal jy voel? Nostalgie? Ek vind dit moeilik om te glo dat ou gevoelens weer kan opvlam: almal verander, en wie jy is (en word) bepaal tog wie jy wil hê. Soos jy self verander, verander jou behoeftes en jou smaak.
Hmm. Te complicated. Ek begin dink ek gaan vir ewig alleen wees, en dis oukei. Rus en vrede.

Thursday, September 14, 2006

eendag 1

eendag
bly die belowendste woord in my arsenaal

eendag is ‘n inkantasie
beswering van die donker
en die storm
eendag is ‘n
belofte
en ‘n
dreigement
eeue later
sus
die broeders Grimm
my nog steeds
aan die
slaap

Monday, September 11, 2006

sprokie 2

Eendag was daar ‘n meisie wie se pa op ‘n dag met ‘n vreemde vrou getrou het. Die pa is toe (voorspelbaar genoeg) dood en die stiefma en haar twee skreeulelike dogters het die huishouding oorgeneem. Die meisie moes in die as voor die kombuis se vuurherd slaap – vandaar die naam Aspoestertjie.
Aspoestertjie het delusions of grandeur gehad, ‘n goeie fee gehallusineer, ‘n gek van haarself by die bal gemaak. Die prins het met iemand anders getrou en nie een van die drie – kômmen Aspoestertjie of haar twee lelike stiefsussies – het ooit ‘n man gekry nie. Aspoestertjie het na ‘n ander land toe verhuis, haar naam verander en nooit weer ‘n nag voor ‘n vuurherd deurgebring nie.....
Wel, eenkeer het sy saam met ‘n lover op ‘n beerpels voor ‘n kaggel liefde gemaak en daar aan die slaap geraak..... maar dis ‘n ander storie.
En wat leer ons uit die hartseer verhaal van Aspoestertjie? Prinse is nie heeltemal so naïef soos hulle lyk nie. Moet nooit die motiewe van jou stiefma oor- of onderskat nie. En: die Aspoestertjies van die wêreld het ook opsies.

Friday, September 08, 2006

liefdeloos

Isabel moet môre al die pad Goudstad toe ry om met 'n gay vriend van haar te beraadslaag. Eintlik is dit meer 'n meeting of minds, 'n dinkskrum: Isabel skryf 'n storie oor 'n stripper wat nie 'n stripper is nie; en 'n speurder wat, onder andere, gay en enkellopend is. Ongelukkig weet Isabel niks van strippers af nie - alhoewel sy vermoed dat mens nie regtig van mans hoef te hou om 'n goeie stripper te wees nie. 'n Stewige dosis contempt kom waarskynlik handig te pas.....
Isabel weet ook niks van gay mans nie - maar oor 'n paar bottels rooiwyn gaan sy alles uitvind. Waar begin mens? Is die lyflike belangrik? Hoekom die obsessiewe fokus op seks - of is dit die straight wêreld wat die obsessie geskep het? Hoe weet mens of jy gay is? ensovoorts.
Isabel verstaan van pyn maar liefde (lyflik, vleeslik, klam) is 'n raaisel.

Wednesday, September 06, 2006

sprokie 1

Eendag het ‘n koningin haar vinger geprik, en bloed en sneeu en ebbehout gesien, en geskrik. En die skrik het in haar ongebore kind se gebeente ingetrek. Die kind is toe gebore en die koningin is dood, en almal het gedink dit sal die einde van die storie wees.
Maar iewers langs die pad was daar ook ‘n stiefma betrokke en ‘n magic mirror, en ‘n jagter en ‘n bos en sewe rowwe myners in ‘n mynhuis anderkant die bos.
Sneeuwitjie het seker baiekeer gewonder hoe dinge sou afgeloop het as sy net ‘n bietjie minder mooi was. Maar haar pa het kleintyd al met haar begin lol, en daarna was dit ‘n vicious circle van ‘n jaloerse stiefma en ‘n jagse jagter en uiteindelik ook die sewe myners. Sug. Sy kon bene oopgooi vir die jagter en só haar vryheid bekom, maar die myners was ‘n probleem want hulle het skofte gewerk.
Wel, met ‘n belaglike naam soos Sneeuwitjie sou sy seker in elk geval nie baie ver in die lewe gekom het nie.

Saturday, September 02, 2006

donkerte

isabel voel partykeer asof sy in 'n diep donker gat is, waarvan sy nie die bo-punt kan sien nie. dis al van kleintyd af so, en sy het eintlik daaraan gewoond geraak. toe sy die eerste keer 'n artikel oor depressie lees, het alles skielik sin gemaak. haar ma se afhanklikheid van antidepressante het haar egter baie gepla, en sy was vasbeslote om nooit self antidepressante te gebruik nie. bowendien het haar oupa selfmoord gepleeg 'n maand of wat voor haar geboorte, en dit was moeilik om dit nie as 'n rejection te sien nie.
haar lewe het egter snaakse draaie geloop, en dit het moeilik geword om soggens uit die bed op te staan. moeilik om met mense te praat. moeilik om asem te haal (net deels te danke aan haar rookgewoonte). tot sy op 'n dag besef: geluk is 'n wilsbesluit. die verlede is verby. en as jy glimlag, glimlag mense gewoonlik terug. love & light.
toe word sy 'n optimis, en 'n ekstrovert, en glimlag vir almal, en gesels ure lank met ou tannies - en dit het gewerk. tot dusver.
wie weet? dalk is daar 'n pot goud aan die ander kant van die reënboog. dalk dans feetjies op maanligaande om die kameeldoringboom in haar agterplaas. dalk is liewe heksie nie so dom as wat sy lyk nie.
daar is baie moontlikhede.

Friday, September 01, 2006

hansie en grietjie

hansie en grietjie

hansie en grietjie het verdwaal in die woud
dae lank gedwaal
krummels gestrooi
(dom kinders)
en nou’s selfs hansie weg
en grietjie dink
sy kan op ‘n hoop sit en huil
of sy kan die heks opsoek
‘n kompromie aangaan
gemmerbrood kry
en dalk haar vryheid ook
mans is nutteloos
hansie sou met verloop van tyd ‘n bierpens ontwikkel het,
kru grappe om die pool-tafel vertel
drie snotneus kindertjies verwek
elke naweek sy vrou slaan
en hom vroeg dooddrink
dis beter so


















iewers in die suide

isabel gebore

my naam is nie isabel nie.

maar dis nie belangrik nie. wat belangrik is, is dat dit isabel kon wees -- of suzy, of bettina, of enige van 'n duisend goeie afrikaanse name. elkeen van ons kom naamloos in die wêreld, en hoekom nie 'n ander naam kies as die een waarmee ons gebore is nie?

isabel is nou omtrent vyf jaar oud - gebore in die kalahari, halfpad tussen vryburg en pofadder - maar die naam het eers 'n jaar gelede gekom. hoekom nie? asof mens so maklik aan 'n alternatiewe persoonlikheid geboorte kan gee, sonder bloed en sonder sweet, en iemand anders kan word: iemand wat nie bang is nie, want sy't al baie erger oorleef. iemand wat weet dat rooikappie se wolf vele gesigte het, en nie almal van hulle lyk gevaarlik nie. die wolf is dikwels iemand wat jy ken, of familie.

miskien moet ek 'n sprokie skryf: eendag was daar 'n isabel, en sy het sulke lang donker hare gehad, en sy was slim: slim genoeg om oor en oor in dieselfde mure vas te hardloop. tot sy agtergekom het daar is 'n beter manier om dinge gedoen te kry.....

van toe af het sy deur mure gebreek en oor mure geklim, en alhoewel sy dikwels gehawend uit die stryd getree het, het wolwe wye draaie om haar geloop. sy was gevaarlik.