Monday, August 11, 2008

magiese ruimte

Luister:

Nog ‘n magiese ruimte: In by die elektriese hek, om die gebou – onder die geelvink-se-boom verby en ‘n entjie later Absalom-se-bos – dan by die hekkie in, op met die trappe en trek jou skoene uit voor jy uiteindelik die heiligdom betree.

Visse in die groot akwarium. Teelvloer. Min gordyne. Potpourri. Allerhande klein kakkies op die rak langs die voordeur. Houtmodelletjies (vis, chinese junk, arend-op-aarbol) in kaal vensterbanke. Windchimes. Reekse twee tot tien van die Simpsons. Vooruitbeplande maaltye in die yskas, pasta en groente en vleis. Tattoeërink.

‘n Kamer wat eintlik ‘n shrine is, ‘n gebed of versugting vir die dogter wat nooit gaan terugkom nie. ‘n Ander kamer met Oosterse goetertjies, vir die seun wat ook lankal uit die huis is: getroud, ‘n vader, verward.

‘n Kamer met ‘n groot ou bed, gekurfde kopertralies aan koppenent en by die voete. Stemme in die nag – maar in hierdie namiddag is dit stil. Snuisterye op die bedkassies, herinneringe, liefde en verlies.

‘n Aand op die balkon/stoep, kerslig en lasagna. Meestal verlies.

No comments: