Isabel voel deesdae asof alles onder beheer is. Sy het 'n paar weke gelede opgehou rook, en die gedagte dat sy nou nie meer (definitief) aan longkanker gaan beswyk nie, is 'n verligting. Dit los nog net hartprobleme, hipertensie, diabetes, depressie (wat manifesteer as selfmoord), en al die ander soorte kanker. Maar ten minste is die lysie nou korter.
Intussen dink sy nog aan die storie van die speurder en die stripper, en die plot begin vorm kry - maar hoe skryf mens 'n boek in hierdie land sonder om dertig jaar se politiek en rugstekery en geheul-met-die-vyand ook by te sleep? Op wie se tone mag mens trap? Waarvoor is mense al moeg, en wat is hulle bereid om darem nog één keer te lees? Wie is "ons" en wie is "hulle", en waar lê die onderskeid?
En is dit enigsins raadsaam om meer as drie issues in een boek te probeer takel?
Marthin sê sy moenie die storie te complicated maak nie, maar haar kop staan al weer in die rigting van magiese realisme & surrealistiese fade-outs. Sy weet nie meer nie. Niks maak sin nie. En tog: met 'n pen in haar hand (of 'n keyboard onder haar vingers) wéét sy wat sy doen. Alles maak sin.
Alles is sprokie. Woorde aanmekaargeflans skep 'n wêreld, en sinne is roetes die onbekende in. Isabel skryf 'n sprokie (net soos Griet) maar anders as Griet beplan Isabel nie om met haar kop in 'n oond te kniel nie. Isabel het beter dinge om met haar tyd te doen.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment