Tuesday, May 01, 2007

bloed

Elke maand bloei ek - nie klokslag agt-en-twintig dae uitmekaar nie, maar darem. Dis die grootste ironie: die teken van 'n vrou se vrugbaarheid is, by my, die teken dat ek nie kinders het nie. En dat daar ook nie enetjie op pad is nie.
N sien deur my - hy vra vanoggend: "Is iemand broeis?" Die tekens was daar, sê hy - hy was net nie seker nie. Dit help seker ook nie dat ek in trane uitbars elke keer as hy iets sê oor kinders of vaderskap nie. Ek haat dit om so kwesbaar te wees, maar hy verstaan.
Hy het hier oorgeslaap - in die middel van die nag my nadergetrek en dit was magic. Dalk hierdie keer.....
Hy praat nog steeds oor Ierland. Dis asof hy hierdie prentjie van eendag in sy kop het: 'n cottage of iets by Connamara aan die Weskus, hy en die kinders - en ek. Ek is deesdae ook deel van die prentjie. Dit maak my bang. En vrees maak my kwesbaar. Om en om - die slang sluk sy eie stert en dit hou net nooit op nie.
Ons gaan hierdie naweek Kuruman toe. Miskien sal hy verstaan, wanneer hy Donna se kinders ontmoet. Miskien sal alles dan sin maak. En oor twee weke gaan ons (tentatief) saam Kaap toe - sy suster trou en ek gaan by tannie Monica kuier. Ek mis haar nogal - wil eintlik hê N moet haar ontmoet.
Alles is deurmekaar maar ek mis hom - haal makliker asem as hy hier is. Huil meer. Lag meer. Lewe meer.

No comments: